Kinders is nuuskierig en eksperimenteer. Moenie hulle in besit plaas van ammunisie sonder volwasse toesig nie!

’n Leerling (13) aan die Laerskool Odensia in Odendaalsrus is in ’n baie ernstige toestand in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein nadat ’n swaarkaliberpatroon Maandagoggend by die skool in die dorp in sy regterhand ontplof het.

Die seun, Darius Hay, gaan waarskynlik sy hand verloor, sê sy ma, Erika Hay. Hy het drie van sy regterhand se vingers verloor en het ’n oop wond aan sy regterskouer.

Piet Odendaal, skoolhoof, sê Darius en nog drie leerlinge het in die pouse die geweerpatroon bekyk. Darius het dit glo met ’n staalvoorwerp geslaan en dit het in sy regterhand ontplof.

Twee personeellede wat op die skoolterrein toesig gehou het, het onmiddellik hulp ontbied. Die polisie was ook op die toneel, sê Odendaal.

Darius is is onmiddellik na die Bongani-hospitaal in Welkom gebring waar hy behandel en sy toestand gestabiliseer is. Daarna is hy na die hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas om geopereer te word. Die ander drie leerlinge is geskok, maar is ongedeerd.

Die personeel en ander leerlinge aan die skool is baie geskok, sê Odendaal. ’n Plaaslike predikant het reeds  by die skool berading aan al die leerlinge gegee.

Odendaal sê die skool se beheerliggaam sou Maandagaand oor die voorval vergader het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Hy sê een van die ander seuns se oupa het die patroon glo in Januarie vanjaar aan hom gegee.

Hy het bevestig die polisie ondersoek die voorval.

Deur Alet Van Der Walt en Madli Grobbelaar (met erkenning aan www.netwerk24.com) – 29 November 2016

Pin It on Pinterest

Shares
Share This