Wag wond kind by winkels

’n Sesjarige seun is gewond toe ’n veiligheidswag Sondagmiddag agt skote op ’n groep rowers by ’n winkelsentrum in Centurion afgevuur het.

Die wag is gearresteer nadat die kind se pa ’n klag van poging tot moord ingedien het.

Die seun het in ’n motor op die parkeerterrein by die Centurion Life­style-sentrum gesit toe hy in die skouer getref is. Die koeël het deur die motor se sondak gegaan.

Die kind is in die Unitas-hospitaal behandel vir ’n ligte skietwond. Hy is nie opgeneem nie, het Robert Jordaan, hospitaalbestuurder, gesê.

Die wag het losgebrand toe rowers ’n vrou van Cornwall Hill in Centu­rion van haar trouring wou beroof.

’n Bron met kennis van die skiettoneel het gesê die wag het van ’n buitetrap by die sentrum begin skiet om die rooftog af te weer. Die rowers kon net een skoot afvuur voordat hulle in ’n swart Mini Cooper gevlug het.

Die bron sê die wag het eers teenoor die polisie ontken dat hy geskiet het.

Toe die nuus aan hom oorgedra is dat een van sy koeëls ’n kind getref het, het die wag erken dat hy die patroondoppies gaan optel het. Die wag het die doppies saam met sy vuurwapen gaan wegsteek, sê die bron.

Drie koeëls is gekry in die motor waarin die kind gesit het.

Klagte dat die wag in ’n beboude gebied geskiet en dat hy met getuienis gepeuter het, word onder meer ondersoek.

Marijke König, bestuurder van die winkelsentrum, sê hulle sal Maandag ’n verklaring uitreik.

Die vrou (44) wat die teiken van die rooftog was, het op die toneel gesê sy en haar man het omstreeks 12:30 in hul motor (’n rooi Range Rover

Evoque) by die sentrum aangekom. Sy wou nie haar naam bekend maak nie.

Sy het vertel haar man wou na ’n winkel gaan wat swembadtoebehore verkoop. Sy het in die motor bly sit met die lugverkoeling aangeskakel. Sy het die winkel Bakers Bin raakgesien en besluit om soontoe te stap.

Die insittendes van ’n Mini wat langs haar stilgehou het, het in Engels vir haar geskree: “Gee my jou ring! Gee my jou ring!”

Sy het gegil. “Hulle het vir my gesê om op te hou skree.”

Die wag het haar gille gehoor en losgebrand, sê sy.

“My vingers was weens die hitte so geswel dat hulle (die rowers) my ring nie kon afkry nie.”

Sy sê toe die skote klap, het die rowers in die Mini weggejaag.

Haar man het gesê die wag het sy vrou se lewe gered.

Seugnet van Zyl – Met erkenning aan www.netwerk24.com

Pin It on Pinterest

Shares
Share This