Boedelwapens: ‘Maak gebruik van amnestie’

“Wat gaan gebeur wanneer die amnestietydperk van ses maande verby is? Suid-Afrikaners moet nóú die kans gebruik.”

Só sê Hendrik Swanepoel van Legally Armed nadat die regering ’n amnestietydperk van ses maande waarin Suid-Afrikaners hul vuurwapens by die polisie kan indien aangekondig het.

Dit fokus onder meer op mense wat vuurwapens of ammunisie geërf het en nie aan die voorskrifte van die Wet op Vuurwapenbeheer voldoen het nie.

Jeff Radebe, minister in die presidensie, het op ’n inligtingsessie Donderdagoggend ná die kabinetsvergadering aangekondig dat Nathi Nhleko, minister van polisie, ’n voorlegging oor die voorgenome amnestie aan die kabinet gedoen het.

Radebe het gesê dat die voorgenome amnestie op mense sal fokus wat in besit is van onwettige vuurwapens en/of ammunisie, asook mense wat vuurwapens en/of ammunisie geërf het en wat nie aan die voorskrifte van die Wet op Vuurwapenbeheer voldoen nie.

Die amnestietydperk strek vanaf 1 April tot 30 September.

Swanepoel sê dit is die eerste keer dat boedelwapens uitgesonder word.

“Mense moenie bang wees nie. As die wapens op die stelsel is en die eksekuteur of gevolmagtigde van die boedel is nie meer beskikbaar nie, dan is jy ’n kandidaat vir hierdie amnestie. Algemene amnestie vrywaar jou van vervolging, so jy het nou die kans om aansoek te doen sonder om aangekla te word.”

Hy sê dit is belangrik dat mense bewus is hiervan omdat al hoe meer boedels die familie se verantwoordelikheid raak.

“Die verantwoordelikheid van daardie vuurwapens wat geërf word, word dus nou op die eksekuteur geplaas.”

Mense moenie stilbly oor boedelvuurwapens nie, nog minder moet hulle die wapens in ’n boorgat gaan afgooi sodat dit kan “verdwyn”.

“Wanneer ’n persoon se dood by binnelandse sake aangemeld word, word daardie inligting deurgetrek na die polisiestelsel toe.

“Die polisie kan dus sien wanneer ’n wapeneienaar oorlede is. Hulle weet wie die wapens in hul huise het wat nie op hul name oorgedra is nie. Jy móét verantwoording doen daarvoor.”

Dit gebeur baie dat ’n familie agterkom dat hulle nie al die vuurwapens se lisensies ná iemand se dood het nie.

“Gaan dan net na jou plaaslike polisiekantoor met die oorlede persoon se identiteitsnommer en om vas te stel watter wapens op die oorledene se naam is. Jy sal die regte papiere kry.”

’n Eksekuteur of ’n gevolmagtigde persoon moet altyd sy/haar oorspronklike handtekening op die polisie-aansoekvorm aanbring, anders kan ’n boedelwapen nie oorgedra word nie.

“Indien dit nie moontlik is vir die boedelberedderaar om dit te onderteken nie, moet die wapens ingehandig word tydens die komende amnestieproses en kan die persoon wat dit inhandig, dan weer om ’n nuwe lisensie aansoek doen.”

Indien mense familielede in die buiteland het en dié hierdie vuurwapens by hulle hou sonder die nodige bergingspermitte, kan dit ook as onwettige vuurwapens beskou word, wat tydens die amnestieproses aangepak kan word.

“Maak dus seker dat jy die regte bergingspermitte het en met jou familie praat oor hoe julle dit gaan uitsorteer. Indien jy met onwettige wapens in jou besit gevang word, kan dit ’n maksimum van 15 jaar tronkstraf beteken.

“Daarom is dit uiters belangrik om jouself die vraag te vra: Wat gaan gebeur wanneer die amnestietydperk van ses maande verby is? Die wet laat ons toe om vuurwapens te hê. Hoekom daarteen skop? Doen dit net binne die wet.”

Dit is belangrik om te onthou dat die amnestietydperk eers op 1 April begin.

Nog belangriker is dat dié tydperk niks te doen het met die laatslapers wat nie betyds hul wapenlisensies hernu het nie. Dit is net vir onwettige vuurwapens en boedelvuurwapens. “Ons wag nog vir die polisie se beleid oor laat hernuwings wat op die spits gedryf word deur hofaansoeke wat op 25 en 26 April aangehoor sal word, en die ou groenlisensies.”

Vir meer inligting rakende vuurwapenlisensies en boedel-vuurwapens, kontak Swanepoel by 051 448 6235 of Johan Martin by 083 391 8180.

Deur Elsje du Toit (www.netwerk24.com, 3 Maart 2017)

Pin It on Pinterest

Shares
Share This