Wildboer verloor appèl ná skietery in kroeg

Deur Jeanne-Marié Versluis, Netwerk24

26 Julie 2017

’n Wildplaaseienaar wat in ’n kroeg sy pistool uitgehaal het omdat dit sy broek laat afsak en dit vir die kroegkelner aangegee het, het vergeefs geappelleer teen sy skuldigbevinding en vonnis vir dié optrede.

Jacobus Daniel Venter is vroeër in die streekhof in Benoni daaraan skuldig bevind dat hy sy pistool nie op die voorgeskrewe manier toegesluit het nie.

Sy optrede het meegebring dat iemand sy pistool gevat en ’n ander kroegkuiergas doodgeskiet het.

Die streekhof het Venter vroeër gevonnis tot ’n boete van R20 000 of 12 maande tronkstraf. Nóg 12 maande tronkstraf is opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is.

Twee regters in die hooggeregshof in Pretoria het Venter se appèl nou van die hand gewys.

Die regters het wel die streekhof se bevel dat Venter ongeskik is om ’n vuurwapen te besit, tersyde gestel.

Hy is dus nou geskik om ’n vuurwapen te besit.

Venter het ’n 9 mm-pistool vir selfverdediging.

Hy en sy vriend Chris Ehlers was op 20 Desember 2012 tussen 13:00 en 14:00 in die Ducks Inn in Benoni, lui die uitspraak.

’n Paar uur later het Venter die kroegkelner gevra om sy wapen weg te sit. Dít het in Ehlers se teenwoordigheid gebeur.

“Dit het hom (Venter) gepla, omdat dit sy broek afgerem het,” het die hof gesê.

Hy het die pistool in ’n skede aan die kelner gegee. Sy het dit agter ’n skryfbehoefteboks onder die toonbank gesit. Die kroeg het nie ’n kluis vir vuurwapens gehad nie.

“Om die vuurwapen te bereik, moet ’n mens agter die toonbank ingaan, afbuk en uitreik daarvoor,” het die hof gesê.

Tussen 18:00 en 19:00 het Leon Roos (44) opgedaag. ’n Stryery het tussen Roos en Ehlers oor geld ontstaan, en ’n vuisgeveg het uitgebreek.

Ehlers het agter die kroegtoonbank ingegaan en die pistool gevat.

Venter het dit vergeefs by Ehlers probeer afvat. Hulle het gestoei.

Die pistool het geval en oor die vloer gegly. Ehlers het dit opgetel en Roos geskiet. Roos het toe beswyk.

Venter het in sy verhoor getuig hy het geweet hy moet die pistool in ’n veilige plek bêre. Hy het dit aan die kroegkelner gegee om te hou, want hy was bang iemand anders gryp dit uit die skede teen sy lyf.

Die skede is juis só gemaak om die pistool vinnig uit te haal.

Die regters het gesê die persoon wat direkte beheer oor die pistool gehad het, was die kroegkelner, want Venter kon nie sien waar sy die wapen (buite sy sig) geplaas het nie. Om sake te vererger, het Venter haar voor Ehlers gevra om dit weg te sit. Ehlers het die situasie uitgebuit, met dodelike gevolge.

Die hof het gesê Venter was 26 jaar oud met ’n gesin toe die voorval gebeur het. Hy het sowat 120 werknemers en ’n wildplaas met internasionale aansien en verblyfgeriewe van sowat R10 miljoen.

Venter het ook lisensies vir twee jaggewere.

Die hof het gesê Venter kon dit bekostig om die boete te betaal.

Die regters het bevind die oortreding is ernstig en die streekhof het nie ’n dwaling met die vonnis begaan nie.

Die regters het egter gesê om Venter ongeskik te verklaar om vuurwapens te besit, sal hom ook alle ander vuurwapens laat verbeur.

Hulle het bevind die streekhof het nie Venter se belange behoorlik oorweeg as daar gekyk word na die aard van sy sakeonderneming en die relatief groot personeelkorps op ’n plaas “in ’n land met ’n verhoogde misdaadsyfer nie”.

* Ehlers (50) is volgens die Benoni City Times in 2015 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Roos, vyf jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en 12 maande vir die onwettige besit van ammunisie. Die laaste twee vonnisse word samelopend uitgedien.

Pin It on Pinterest

Shares
Share This