Lisensies: Oplossing kom dalk vir wapeneienaars | Netwerk24
06 November 2018 14:37
Llewellyn Prince
’n Oplossing kom dalk vir die meer as 400 000 Suid-Afrikaners wat tans onwettig in besit van hul vuurwapens is omdat hulle ingevolge bestaande wetgewing nie hul lisensies betyds hernu het nadat dit verval het nie.
Dít is as die private-lid-wetsontwerpvoorstel suksesvol is wat dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Dinsdag by die parlement ingedien het om onder meer die bestaande Vuurwapenwet te wysig.
Dié voorgestelde wysigingswetsontwerp is Dinsdag ook deur die Suid-Afrikaanse Jagters-enwildbewaringsvereniging (SAJWV) gesteun toe Groenewald dit voor die portefeuljekomitee oor die polisie ter tafel gelê het.
Vroeër is berig oor die huidige krisis nadat die konstitusionele hof in Junie 2018 beslis het dat alle vuurwapenlisensies wat ingevolge die Wet op Vuurwapens en Ammunisie (wet 60 van 2000) uitgereik is en verval het voordat die eienaar dit hernu het, ongeldig is.
Die hofgeding het gekom nadat die huidige wet die Wet op Wapens en Ammunisie van 1969 vervang het.
Derduisende vuurwapeneienaars wat onder die vorige wetgewing hul lisensies bekom het, moes ingevolge die nuwe wet binne 90 dae voordat ’n lisensie verval, aansoek doen om hul lisensies te hernu.
Vuurwapeneienaars wat dit nie betyds gedoen het nie, moes toe hul vuurwapens by die polisie inhandig of die risiko loop om vervolg te word.
Vuurwapeneienaars van Suid-Afrika (Gosa) het egter in Julie 2018 suksesvol aansoek gedoen om ’n hofinterdik wat die polisie voortaan verbied om beslag te lê op vuurwapens waarvan die lisensies verval het.
Volgens Groenewald is die doel van sy voorgestelde private-lid-wysigingswetsontwerp om vuurwapeneienaars wat nie betyds hul lisensies hernu het nie, nog ’n geleentheid te gee om dit met ’n bykomende administratiewe boete te kan doen.
“Die land sit met ’n probleem. Die dooiepunt het groot onsekerheid by vuurwapeneienaars veroorsaak.”
Volgens Groenewald het hy uit noodsaak die private-lid-wysigingswetsontwerp ingedien vir “sekerheid oor wat presies van vuurwapeneienaars verwag word”.
Op die vraag oor of dit suksesvol deur die parlement deurgevoer sal word, het Groenewald gesê sommige LP’s in die komitee voel die polisie se siviele sekretariaat neem te lank om self deur wetgewing met oplossings vorendag te kom.
Fred Camphor, die SAJWV se uitvoerende hoof, het Dinsdag ook ’n voorlegging oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp aan die komitee gedoen.
Volgens hom steun die SAJWV Groenewald se voorstel “omdat dit ’n oplossing vir die huidige krisis bied”.
“Ons sit tans met tussen 420 000 en 470 000 vuurwapeneienaars wie se vuurwapenlisensies verval het, en die syfer styg steeds.
“Ons is net mense wat aanhou vergeet om iets te doen. Die meerderheid van bogenoemde vuurwapeneienaars het net vergeet dat hul lisensies op ’n spesifieke tyd sou verval en hulle het nie betyds om hernuwing aansoek gedoen nie.
“Dit maak nie van hulle misdadigers nie. Die huidige vuurwapenwetgewing maak wel van hulle ‘misdadigers’.”
Volgens Camphor is die punt dat daar tans ook die onvermoë is om die probleem op te los, veral omdat die huidige wetgewing nie enige oplossings bied nie.
“Die private-lid-wysigingswetsontwerp bied wel oplossings vir nou en die toekoms,” meen Camphor.
Francois Beukman, komiteevoorsitter, het die aangeleentheid vir twee weke uitgestel sodat Groenewald volledig op LP’s se vrae oor die kwessie kan reageer.
* Besoek www.netwerk24.com om op hoogte van nuus te bly.